Skip to content
Menu
Menu

Studiehulp met ’n oorsese bonus

Atterbury Trust se beursstudente kry meer as net finansiële hulp, en studente wat aan Hoërskool Centurion gematrikuleer het, het ’n selfs groter geleentheid… Brigitte Martins, ’n derdejaarstudent in BSc biologiese wetenskappe by Noordwes-Universiteit, is die jongste begunstigde van ’n baie spesiale program. Ons hoor meer. 

Atterbury Trust-donateur Paul Wolmarans se borgskap is juis aan jou toegeken danksy jou wetenskap-gerigte graadkeuse; en toe kry jy boonop die kans om by sy besigheid in die VSA te gaan vakansiewerk doen. Hoe het dié ervaring afgeloop?
Ek was so gelukkig om van verlede November tot Januarie Florida te besoek, en tydens die drie maande het ek die geleentheid gehad om te werk in drie departemente van oom Paul se besigheid – menslike hulpbronne, aankope en rekenkunde.

Dit was vir my ’n groot aanpassing omdat ek geen ervaring in enige van dié dissiplines, of enige vorige blootstelling aan die konstruksiebedryf gehad het nie, maar almal was verskriklik behulpsaam en het seker gemaak ek verstaan presies wat om te doen. Ek het insig gekry in hoe ’n suksesvolle besigheid funksioneer, en ek glo dat hierdie ervaring my eendag baie sal bevoordeel in die werksplek.

Ek het ook op persoonlike vlak baie geleer in my tyd daar. Ek het vir ’n maand en ’n half by oom Paul en sy vrou, tannie Elfriede, gebly, waar ek soveel nuwe dinge leer ken het – van musiek tot belangrike lewenslesse. Ek sien oom Paul en tannie Elfriede as rolmodelle in my lewe, en hulle sal vorentoe ’n voorbeeld bly van hoe ek my lewe wil lei.

Vir die res van my tyd in Amerika het ek in die maatskappywoonstel gebly, waar ek selfstandig moes wees en vir myself sorg. Ek glo hierdie ervaring was ongelooflik goed vir my – ek het baie oor myself geleer op ’n persoonlike vlak. Oor naweke het ek Florida verken en soveel mooi plekkies ontdek in dié mooi staat. Dit het ’n sterk liefde vir die natuur in my aangewakker.

Studiehulp met ’n oorsese bonus

Wat het jy die meeste geniet van die besoek? En wat het jou die meeste verras – iets wat anders was as wat jy verwag het?
“Die Wolmaranse” het my saamgeneem op ’n maatskappy-seevaart na die Bahamas, wat beslis my hoogtepunt was want ek is mal oor die oseaan! Die hele Wolmarans-familie was saam en het uit hul pad gegaan om die vaart vir my verskriklik lekker te maak. Ek het ook die kans gehad om vir my tannie in New York te gaan kuier, ’n wonderlike ervaring! Ek kon talle landmerke besoek – die Statue of Liberty, die Museum of Modern Art, die Metropolitan Museum of Art, Times Square, Wall Street, Central Park en soveel meer – dit was  ’n lewensveranderende ervaring!

Die grootse verrassing vir my was die Amerikaners se aard. Ek het nie verwag dat Amerikaners so gasvry sou wees nie. Van werkers in die kruidenierswinkels tot werknemers in die maatskappy, almal het my met ope arms verwelkom en baie gemaklik laat voel. Ek het ook geen konteks gehad van hoe groot Amerika is nie voordat ek die land besoek het; dit het my beslis verras.

Hoe het jy destyds by die Atterbury Trust-beursleningprogram uitgekom?
Een oggend in Hoërskool Centurion se skoolsaal is ons matriekklas vertel van Atterbury Trust en oom Paul Wolmarans, ’n oudleerling van ons skool en ’n suksesvolle sakeman in die VSA, wat elke jaar vanaf 2022 ’n rentevrye studiebeurslening aan een matriekleerder in ons skool aanbied. Ek het aansoek gedoen en is later ingeroep vir ’n onderhoud.

Studiehulp met ’n oorsese bonus
Studiehulp met ’n oorsese bonus
Studiehulp met ’n oorsese bonus
Studiehulp met ’n oorsese bonus

Wat was jou plan B indien jy nie die beurslening sou kry nie?
Ek sou die bank nader vir ’n studielening, wat natuurlik gepaard sou gaan met hoë rente, so die geleentheid was natuurlik uiters aanloklik.

Vertel ons van jou studierigting – hoe het jy daarop besluit?
Ek het van kleins af geweet ek wil eendag in die mediese veld werk, maar ek het geweet ek wou nie ’n dokter of verpleegster wees nie. Navorsing het my nog altyd aangetrek, en ek was nog altyd nuuskierig oor wetenskap en biologie. Toe dit op hoërskool tyd geword het om ’n beroepsveld te kies, het ek besluit op ’n graad wat beide my passie vir navorsing en die mediese wêreld bymekaar sou bring. My hoofvakke is mikrobiologie en fisiologie – in eersgenoemde leer ons oor onsigbare organismes om ons en die groot impak wat hulle op die wêreld het, en in fisiologie alles oor die menslike liggaam, van die kleinste selle tot die belangrikste organe.

Wat sou jy uitwys as die grootste uitdaging vir jou in jou studentelewe; en hoe bestuur jy dit?
Tydsbestuur is definitief my grootste uitdaging. Die werkslading in BSc is baie hoog, en dit is maklik om oorweldig te voel. In my eerste jaar het ek baie gesukkel daarmee om betyds take te voltooi, en het dikwels gesukkel met stres. Mettertyd het ek geleer dat dit my help om elke aand vir die volgende dag ’n skedule te maak en om die belangrikste take te prioritiseer. Ek het ook geleer dat gereelde oefening, gesonde kos en genoeg slaap jou punte red!

Waar sien jy jouself oor vyf jaar?
Teen dan wil ek hopelik werk in ’n hospitaal of navorsingslaboratorium. Ek wil baie graag navorsing doen oor aspekte wat ’n impak  op die wêreld het, veral in die veld van immunologie en siekte. En dis my droom om dit in die Kaap te kan doen, waar ek naby die see kan woon. En ek wil ook soveel as moontlik reis en die wêreld verken.

Wat beteken die Atterbury Trust beurslening vir jou? Wat sal jy vir potensiële skenkers aan die beursfonds sê om hulle te motiveer om te skenk?
Dit beteken só baie om die geleentheid te hê om my loopbaandoelwitte na te streef sonder finansiële belemmerings. Ek sal graag eendag in die toekoms dieselfde geleentheid vir ander studente wil bied. Die mense wat skenk, soos oom Paul, maak só ’n direkte positiewe impak op ’n student se lewe, so ek sal potensiële skenkers aanmoedig om by te dra tot die opvoeding van gemotiveerde jongmense wat later kan teruggee aan die gemeenskap.

Studiehulp met ’n oorsese bonus

Lees meer oor Paul Wolmarans en hoekom hy aan die Atterbury Trust-beursfonds skenk, en vind hier uit hoe jy ook kan bydra tot die studies van ‘n belowende jongmens.